Graad 11 Fisiese Wetenskappe


Graad 11 Fisiese Wetenskappe bou op die teorie, kennis en toepassings van graad 10. Graad 11 Fisiese Wetenskappe bevat wel hoofstukke wat splinternuut is en nie vraag vooraf kennis gebruik maak nie. Die vak bestaan uit twee hoofafdelings, naamlik Fisika en Chemie. Albei afdelings fokus op die verstaan van natuurlike verskynsels, probleemoplossing en die toepassing van wetenskaplike beginsels in die alledaagse lewe. Die inhoud van Graad 11 vorm ook ’n belangrike basis vir Graad 12. BELANGRIK, daar is hoofstukke in die Graad 11 Fisiese Wetenskappe sillabus wat as Graad 12 hoofstukke beskou word. Hierdie hoofstukke word selde in Graad 12 weer verduidelik, bespreek en hersien.


Fisika

Newton se Wette en die Toepassing daarvan

Newton se bewegingswette vorm een van die belangrikste grondbeginsels van meganika.

  • Die eerste wet verduidelik dat ’n voorwerp in rus of eenvormige beweging sal bly tensy ’n netto krag daarop inwerk.
  • Die tweede wet beskryf die verband tussen krag, massa en versnelling.
  • Die derde wet fokus op aksie- en reaksiekragte.

Leerders moet leer hoe om vryeliggaamdiagramme te teken, resultante kragte grafies te bepaal en wiskundig te bereken, asook bewegingsprobleme op te los. Toepassings sluit situasies soos voertuie, hysbakke en voorwerpe op skuinsvlakke in. Hierdie afdeling help leerders om die invloed van kragte op beweging beter te verstaan.


Newton se Universele Gravitasiewet

Hierdie hoofstuk fokus op die aantrekkingskrag tussen voorwerpe. Newton se universele gravitasiewet verduidelik dat alle voorwerpe mekaar aantrek met ’n krag wat afhang van hul massas en die afstand tussen hulle.

Leerders ondersoek gravitasievelde, gewig en die beweging van satelliete en planete. Daar word ook gekyk na die verskil tussen massa en gewig en hoe gravitasie die beweging van sterre, planete en mane beïnvloed. Hierdie onderwerp verbind Fisika met ruimtewetenskap en astronomiese verskynsels.


Elektrostatika

Elektrostatika handel oor stilstaande elektriese ladings en die interaksie tussen positiewe en negatiewe ladings. Die fokus is hoe voorwerpe gelaai word deur wrywing, geleiding en induksie.

Die konsep van Coulomb se wet word bekendgestel om die krag tussen ladings te beskryf en die grootte van die krag te bereken. Elektriese velde en die gedrag van ladings binne hierdie velde word ook beskryf. Praktiese toepassings van elektrostatika sluit weerlig, fotostaatmasjiene en elektrostatiese spuitverf in.


Elektromagnetisme

In hierdie afdeling word die verband tussen elektrisiteit en magnetisme ondersoek. Die teorie sluit in magnetiese velde rondom magnete en stroomdraende geleiers. Daar word ook gekyk na elektromagnete en die werking daarvan.

Hierdie hoofstuk is die grondslag vir die Graad 12 hoofstuk wat motors en generators verduidelik en hoe elektriese energie in kinetiese energie omgeskakel word en omgekeerd. Hierdie konsepte vorm die basis van baie moderne tegnologieë soos elektriese motors, luidsprekers en kragopwekkers.


Elektriese Stroombane

Hierdie hoofstuk fokus op die vloei van elektriese stroom in stroombane. Sleutel konsepte soos stroomsterkte, potensiaalverskil, weerstand en drywing, asook die gebruik van Ohm se wet word in hierdie hoofstuk bespreek.

Serie- en parallelstroombane word vergelyk en berekeninge word gedoen om totale weerstand, stroom en potensiaalverskil te bepaal. Energieverbruik en drywing word ook behandel. Elektriese stroombane in Graad 12 sluit al die onderwerpe van Graad 11 in, met die addisie van interne weerstand. Hierdie kennis help leerders om die werking van huishoudelike en industriële elektriese stelsels beter te verstaan.



Chemie

Atoomverbindings

Atoomverbindings fokus op die manier waarop atome met mekaar verbind om verbindings te vorm. Drie bindings naamlik ioniese, kovalente en metaal bindings en hoe hierdie bindings die eienskappe van stowwe beïnvloed word bespreek.

Die struktuur van molekule en die voorstelling van verbindings met chemiese formules vorm ’n belangrike deel van hierdie afdeling. Lewis diagramme en Couper strukture moet deur leerders vir verskillende verbindings geteken kan word.


Intermolekulêre Kragte

Hierdie hoofstuk handel oor die kragte tussen molekule. Leerders bestudeer verskillende tipes intermolekulêre kragte, insluitend Van der Waals-kragte, ioon-dipoolkragte en waterstofbindings.

Daar word verduidelik hoe hierdie kragte fisiese eienskappe soos kookpunt, smeltpunt en oplosbaarheid beïnvloed. Die onderwerp help leerders om te verstaan waarom verskillende stowwe verskillende fisiese eienskappe het. Hierdie Graad 11 Fisiese Wetenskappe hoofstuk word weer in Graad 12 by Organiese chemie na verwys, waar leerders die teorie van intermolekulêre kragte moet toepas.


Stoigiometrie

Stoigiometrie, of soos baie dit ken “Stoig”, fokus op berekeninge van chemiese reaksies. Leerders gebruik gebalanseerde chemiese vergelykings om massas, mol, volume, konsentrasie en aantal deeltjies te bereken.

Hierdie afdeling vereis goeie wiskundige vaardighede en logiese denke. Konsepte soos molêre massa, Avogadro se konstante en molêre volume word gebruik om probleme op te los. Stoigiometrie vorm die basis van baie chemiese berekeninge in Graad 12 hoofstukke.


Energie en Chemiese Verandering

In hierdie hoofstuk word ondersoek hoe energie tydens chemiese reaksies verander. Leerders onderskei tussen eksotermiese reaksies, wat energie vrystel, en endotermiese reaksies, wat energie absorbeer.

Energieprofieldiagramme word gebruik om aktiveringsenergie en entalpieverandering te verduidelik. Daar word ook gekyk na katalisators en hoe dit die reaksie tempo, asook die reaksieprofiel beïnvloed.


Suur-Basis Reaksies

Hierdie afdeling fokus op die eienskappe en gedrag van sure en basisse. Konsepte soos die pH-skaal, indikators en neutralisasiereaksies word tydens die hoofstuk bespreek.

Die reaksies van sure met metale, basisse en karbonate word bestudeer. Praktiese toepassings van suur-basis chemie sluit landbou, medisyne en waterbehandeling in.


Redoks Reaksies

Redoksreaksies behels die oordrag van elektrone tussen stowwe. Die fokus is oksidasiegetalle om die halfreaksies te identifiseer om sodoende die finale reaksie te kan skryf.

Hierdie Graad 11 Fisiese Wetenskappe hoofstuk vorm die basis vir die hoofstuk genaamd elektrochemie wat in Graad 12 behandel word. Hierdie onderwerp het belangrike toepassings in batterye, metallurgie en industriële prosesse.


Gevolgtrekking

Die Graad 11 Fisiese Wetenskappe sillabus bied leerders ’n diepgaande begrip van belangrike wetenskaplike beginsels in beide Fisika en Chemie. Die vak ontwikkel probleemoplossings, kritiese denke, analitiese redenasie en die vermoë om wetenskaplike konsepte in praktiese situasies toe te pas.

Deur die studie van beweging, elektrisiteit, chemiese reaksies en materie kry leerders ’n beter begrip van die wêreld rondom hulle. Die kennis en vaardighede wat gedurende Graad 11 ontwikkel word, vorm ’n noodsaaklike grondslag vir sukses in Graad 12 en verdere studies in wetenskaplike rigtings.