Newton se bewegingswette

Newton se bewegingswette vorm die grondslag van klassieke meganika en help ons om die beweging van voorwerpe te verstaan. Hierdie wette beskryf hoe kragte beweging beïnvloed en hoe voorwerpe met mekaar in wisselwerking tree. Die beginsels word daagliks in situasies soos motors, sport, hysbakke en ruimtevaart toegepas.

Newton se bewegingswette vorm ook ʼn belangrike basis vir Graad 12 hoofstukke. Hoofstukke soos Momentum en impuls asook Arbeid, energie en drywing maak gebruik van Newton se wette.


Newton se eerste bewegingswet

Newton se eerste wet staan bekend as die wet van traagheid. Dit beskryf dat ’n voorwerp in rus sal bly, of teen ’n konstante snelheid in ’n reguit lyn sal beweeg, tensy ’n netto krag daarop inwerk.

Met ander woorde, ʼn netto krag is nodig om ʼn verandering in beweging te veroorsaak. Indien geen netto krag teenwoordig is nie, sal die toestand van beweging onveranderd bly. Traagheid verwys na ’n voorwerp se weerstand teen verandering in beweging. Hoe groter die massa van die voorwerp, hoe groter is die traagheid.

Voorbeeld:
Wanneer ’n motor skielik stop, beweeg passasiers vorentoe. Hulle liggame wil aanhou beweeg omdat hul beweging nie onmiddellik verander nie.

Belangrike verwantskappe:

  • Geen netto krag beteken geen versnelling.
  • ’n Voorwerp kan beweeg sonder dat ’n krag dit voortdurend vorentoe stoot.
  • Wrywing veroorsaak dikwels dat voorwerpe uiteindelik stop.

Moontlike vrae:

  • Verduidelik die begrip traagheid.
  • Waarom dra passasiers veiligheidsgordels?
  • Wat gebeur met ’n voorwerp indien die netto krag nul is?


Newton se tweede bewegings wet

Die tweede wet beskryf die verband tussen netto krag, massa en versnelling van ʼn voorwerp. Volgens hierdie wet is die versnelling van ’n voorwerp direk eweredig aan die netto krag en omgekeerd eweredig aan die massa.

Die formule vir Newton se tweede wet is:

Fnet = ma

Waar:

  • Fnet​ = netto krag in newton (N)
  • m = massa in kilogram (kg)
  • a = versnelling in meter per sekonde kwadraat (m·s−2)

Hierdie wet toon dat ’n groter krag ’n groter versnelling veroorsaak, terwyl ’n groter massa moeiliker versnel. Indien dieselfde krag op twee verskillende massas inwerk, sal die voorwerp met die kleiner massa vinniger versnel.

Voorbeeld:
’n Leë inkopietrollie versnel makliker as ’n vol trollie wanneer dieselfde krag toegepas word.

Belangrike verwantskappe:

  • Netto krag en versnelling is direk eweredig met die massa van die voorwerp wat konstant bly.
  • Massa en versnelling is omgekeerd eweredig met die netto krag wat konstant bly.
  • Die versnelling beweeg in dieselfde rigting as die netto krag.

Vryliggaamdiagramme is baie belangrik omdat dit alle kragte op ’n voorwerp uitgeoefen word, aandui. Hierdie diagram word gebruik om berekeninge vanaf te doen.

Moontlike vrae:

  • Teken ’n vryliggaamdiagram vir ’n voorwerp op ’n oppervlak
  • Bereken die versnelling van ’n voorwerp wanneer die netto krag en massa gegee word.
  • Bepaal die netto krag wat op ’n motor inwerk.


Newton se derde bewegingswet

Newton se derde wet handel oor die interaksie tussen twee voorwerpe. Die wet stel dat wanneer een voorwerp ’n krag op ’n ander voorwerp uitoefen, die tweede voorwerp ’n ewe groot krag maar teenoorgestelde rigting op die eerste voorwerp uitoefen.

Hierdie kragte staan bekend as aksie- en reaksiekragte.

Die verwantskap kan soos volg voorgestel word:

FAB = −FBA​

Dit beteken:

  • Die kragte is ewe groot.
  • Die kragte werk in teenoorgestelde rigtings.
  • Die kragte werk op verskillende voorwerpe.

Voorbeeld:
Wanneer ’n persoon teen ’n muur druk, druk die muur met ’n ewe groot krag terug teen die persoon.

Nog ’n voorbeeld is vuurpyle. Warm gasse word agtertoe uitgestoot, wat veroorsaak dat die vuurpyl vorentoe beweeg.

Belangrike verwantskappe:

  • Aksie- en reaksiekragte kanselleer mekaar NIE UIT NIE omdat hulle op verskillende voorwerpe inwerk.
  • Die twee kragte ontstaan terselfdertyd.
  • Beweging vind plaas as gevolg van die interaksie tussen voorwerpe.

Moontlike vrae:

  • Identifiseer die aksie- en reaksiekragpare in ’n situasie.
  • Verduidelik hoe ’n vuurpyl in die ruimte beweeg.
  • Waarom kanselleer aksie- en reaksiekragte mekaar nie uit nie?


Gevolgtrekking

Newton se bewegingswette verduidelik hoe kragte beweging beïnvloed en hoe voorwerpe met mekaar reageer. Die eerste wet fokus op traagheid, die tweede wet beskryf die verband tussen krag en versnelling, en die derde wet verduidelik aksie- en reaksiekragte. Hierdie wette speel ’n belangrike rol in Fisika en word gebruik om talle praktiese situasies in die werklike wêreld te verstaan.